Charl’s Brain Waves

This section of our blog is in memoriam of prof Charl Vorster (1946-2014). It contains ideas, sometimes fleeting thoughts, a bit of humor, definitions and other writings on psychotherapy and being a psychotherapist – as formulated by Charl.

 

Seksuele Molestering – Die Werklike Probleem By Charl Vorster

Skokkende onkunde onder ouers en selfs opgeleide professionele hulpverleners oor die seksualiteit van jong kinders en die hantering van aangeleenthede soos beweerde seksuele molestering kom al hoe sterker na vore. In baie gevalle veroorsaak die wyse waarop sulke sake hanteer word juis die traumatisering van kinders pleks daarvan om dit te voorkom of te verlig.

Die ongelooflike onkunde oor aangeleenthede van ‘n seksuele aard by jonger kinders van owerheidskant het juis in die onlangse verlede ook geblyk uit die gewysigde Kinderwet wat seksuele gedrag tussen minderjarige kinders – en selfs ‘n soen – geklassifiseer het as strafbare misdadige gedrag! Gelukkig is hierdie belaglike wanpersepsie reggestel deur ‘n wysiging aan die Wet. Maar hierdie neiging om gedrag met ‘n seksuele konnotasie by jong kinders te wil vertolk as misdadig en strafbaar kom blykbaar baie wyer voor as net van owerheidswee en dit wil blyk dat grootskaalse opvoeding van ouers en selfs professionele werkers ‘n prioriteit behoort te wees.

‘n Mediese dokter het byvoorbeeld onlangs – sonder dat hy haar medies ondersoek het! -‘n kleuter verwys vir ‘n forensiese sielkundige ondersoek omdat sy ‘n onwilligheid getoon het om op die toilet te gaan sit! Die betrokke sielkundige na wie die geval  verwys is was stomgeslaan om te verneem dat die betrokke dokter nie eens by die ma navraag gedoen het oor of die kind hardlywig was of dalk ‘n branderigheid met urinering beleef het nie!

Gevalle kom gereeld voor waar hoogs bekommerde ouers hul na maatskaplike werkers of sielkundiges haas omdat hul vyf, ses of sewejarige kinders en ‘n maatjie betrap is dat hulle mekaar fisiek eksploreer – wat absolute normale gedrag van kinders van hierdie ouderdomsgroep is. Die ouers het blykbaar lank reeds vergeet hoe hulle op ‘n soortgelyke ouderdom “dokter-dokter” gespeel het!

Wat sake ongelukkig vererger is dat sommige van hierdie professionele hulpverleners self te geneigd is om gevaarligte te sien flikker en baie maklik terme begin rondgooi soos “molestering”, “verkragting” of “die skuldidge (“Perpetrator”) en by ouers ‘n prentjie skep van seksuele patologie en trauma, terwyl dit in die meeste gevalle gaan om jong kinders wat absoluut normale gedrag vir hul ouderdomsgroep vertoon.  Kinders word dan dikwels onderwerp aan druk om inligting te  verstrek oor wat “gebeur” het of wat “aan die kind gedoen is”, wat sodoende  ‘n “skuldige” en ‘n “slagoffer” (“victim”) skep. Andersinds gesonde kinders word in die proses getraumatiseer en die slagoffers van volwassenes se onkunde en onkundige hantering. Om die etiket van ‘n “verkragter” of “seksueel gemolesteerde” te dra kan in sommige gevalle ‘n persoon se hele toekomstige lewe beinvloed.

Kundige ouerleiding en deeglike kennis oor die ontwikkelingstadia waardeur kinders beweeg in die proses van opgroei is van wesenlike belang. Professionele hulpverleners het in hierdie opsig ‘n belangrike rol om te vervul en behoort ouers by te staan om koelkop te bly wanneer seksualiteit en seksuele gedrag by jong kinders ter sprake kom ten einde traumatisering van die betrokke kinders te voorkom. ‘n Groot vlieg in die salf is ook die betrokke artikel in die Kinderwet wat dit verpligtend maak om enige beweerde molestering van ‘n jong kind by die polisie aan te meld. Die voortspruitende polisieondersoek wat hierna volg is in die meeste gevalle uiters impakvol op al die betrokkendes en het dikwels ernstige traumatisering van die betrokke kind tot gevolg. ‘n Goed bedoelde besermingsmaatreel vir jong kinders het hier ongelukkig meestal net die teenoorgestelde uitwerking. Die wet behoort gewysig te word ten einde sodanige aanmelding steeds verpligtend te maak maar dan eerder aan sekere aangestelde maatskaplike werkers wat ‘n sensitiewe voor-ondersoek kan loods voordat die gereg sy lompe en hardhandige verloop neem (in die enkele gevalle wat dit werklik aangedui is!)

 

Charl’s Brain Waves

entrapped in group

“Humankind, in the final analysis, is just a leaderless, self-help crowd entrapped in group dynamics and desperately struggling to manage itself” – Charl Vorster (31 August 2013)